DOUVOORDAG (man-en-vrou duo, Jattie en Ilse de Beer), se debuut album, DIE AVONTUUR, is vroeg Oktober 2018  via alle digitale platforms uitgereik en het onmiddellik die nommer een posisie op iTunes ingeneem. Musiekliefhebbers ken reeds geruime tyd al hulle unieke klank. Nie net is uittreksels van twee van hulle liedjies gebruik in die klankbaan van die gewilde Afrikaanse fliek, Mooirivier nie, maar verskeie van hulle snitte soos Uitsig, Desembers, Skrapnel, Die avontuur, Hande vat en Manifes is ook al ingesluit op onderskeidelik die Afrikaans is Groot en In Afrikaans kompilasie albums vanaf 2015 tot nou. Gedurende Desember 2017 was DOUVOORDAG ook deel van die heel eerste In Afrikaans konsertreeks op Hartenbos waar hulle die verhoog gedeel het met bekende name soos Jo Black, Leah, Robbie Wessels en Jan de Wet by die Kersfees in Afrikaans konsert, wat bygewoon was deur 6 000+ mense. Na die sukses van die vorige jaar se konsert was hulle weereens genooi om deel te wees van die Kersfees in Afrikaans konsert in 2018 saam met Roan Ash en Jan de Wet.

Ilse en Jattie sing al sedert 2008 saam. Aanvanklik het hulle onder ’n Engelse naam gesing, omdat hulle veral by troues en korporatiewe funksies opgetree het (amper 70 troues tot op datum!), maar mettertyd het hulle al hoe meer oorspronklike Afrikaanse musiek geskryf en gesing, en só het DOUVOORDAG ontstaan. Hulle is ‘n uitstekende lewendige akoestiese duo wat verskeie instrumente bespeel, en gehore is altyd in vervoering met hulle harmonieë. CJ de Swardt het in 'n onlangse resensie oor DIE AVONTUUR in Vrouekeur geskryf: "Die trefkrag van die album lê in die eerlikheid, treffende verwerkings, opwindende, progressiewe orkestrasie (ligte rock, stewige folk en 'n skeut melancholiese country wat in kontemporêre styl verpak word) en suiwer vokale vertolkings."

 

Albei kom uit musikale families, en sing sedert hul skooldae. Ilse was ʼn lid van die Stellenberg Meisieskoor, Pro Cantu Jeugkoor en die Stellenbosch Universiteitskoor, en Jattie het in die Affies Seunskoor en Tukkies se Camerata-koor gesing.  Hulle het saam ook in 2008 in die Akustika kamerkoor gesing wat dieselfde jaar die Llangollen Eisteddfod in Wallis gewen het as "Choir of the World". Jattie is ook vier jaar agtereenvolgens bekroon met die prys vir Beste Oorspronklike Komposisie tydens Tukkies se jaarlikse serenade-kompetisie. Jattie en sy groep Vertikaal het in 2009 ʼn SAMA gewen vir hul tweede album, Stil.

Jattie, ’n baie begaafde liedjieskrywer, skryf ewe gemaklik in Afrikaans en Engels, en vir enige musikale genre. Daarvan getuig die groot aantal baie uiteenlopende kunstenaars wat al van sy liedjies opgeneem het, onder meer Louis Brittz, Zak van Niekerk, Len Muller, Dans Dans Lisa, Izak Davel en Leon Gropp, om net ’n paar te noem. Hy het ook onlangs die snit, Spring, vir Jo Black se tweede album (Voel jy die genade) geskryf, asook nuwe oorspronklike snitte vir Ruhan du Toit (voorheen lid van Touch of Class), Sharonay en Roan Ash. Jattie en die bekende liedjieskrywer en vervaardiger, Johan Vorster, was medeskeppers van Die Groot Ontbyt se temalied, Kom ons gaan groot, wat gesing word deur Jo Black. Jattie en Leon Gropp het ook onlangs saam die nuwe Ontbytsake temalied geskryf, wat Jattie ook vervaardig het. Jattie is 'n gerespekteerde vervaardiger en liedjieskrywer in die bedryf en is tans betrokke by verskeie produksies en albums vir musikante onder die naam Freesolo Creative, wat hy en Ilse saam bestuur.

 

Jattie, ’n geregistreerde bedryfsielkundige met ʼn meestersgraad agter sy naam, werk ook as onafhanklike konsultant wanneer hy nie musiek maak nie. Ilse het ʼn B.Comm-honneursgraad in bemarking en besigheidsbestuur en is ʼn bekende naam agter die skerms in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy het al onder meer vir Merchant Music, Coleske Artists, Inhoud Huis Musiek en Atterbury Teater gewerk, en was ook betrokke by produksies soos Afrikaans is Groot, die kykNET Ghoema Musiektoekennings, Gospel Skouspel, Innibos se hoofverhoogproduksies en die In Afrikaans Hartenbos konsertreeks. Tans is sy en Jattie saam betrokke met die bestuur van Freesolo Creative wat, met hulle 40 jaar se gesamentlike ondervinding in die musiek -en vermaaklikheidsbedryf, verskeie dienste bied in die musiekbedryf - soos liedjieskryf & produksie dienste, digitale bemarkingsbestuur, konsertbestuur, lewendige vermaak, kunstenaar besprekings, ensevoorts.

Jattie is die kreatiewe brein agter DOUVOORDAG en meeste van die groep se lirieke en melodieë kom uit sy pen. Die liedjies reflekteer iets van die De Beers se lewens en hulle lewensuitkyk. Een van hulle enkelsnitte, die baie gewilde Desembers vertel byvoorbeeld die verhaal van hul Desembervakansies op Stilbaai, waar die paartjie in 2005 ontmoet het. “Die liedjies is skilderye van die interne ontdekkings en mooi oomblikke langs ons persoonlike pad, en sommige is geskryf om ons te bemoedig en herinner aan hoekom ons hierdie avontuur gekies het,” sê Ilse. Vir Ren is ’n spesiale lied wat hul geskryf het vir hul 2.5-jarige oue seuntjie. Uitsig was die eerste lied wat hul geskryf het in 2014, en dit is waar die hele avontuur begin het. Landsberghoek het Jattie geskryf oor sy ervaringe as kind op hul familieplaas saam met sy twee broers en suster.

 

Jattie was baie betrokke by die vervaardiging van DIE AVONTUUR en het saam met voorste vervaardigers soos Jake Odendaal, Gideon Botes, Jason Ferreira, Reghardt Labuschagne en Stefan Swart daaraan gewerk. DIE AVONTUUR het vier jaar se harde werk geverg, maar het beslis gesorg vir iets vars en nuut in Afrikaans. “Hierdie album is die storie van my en Ilse se persoonlike avontuur. Maar dis ook die storie van elke hart wat smag daarna om ʼn impak te maak op die wêreld en te lewe vir meer as net eiebelang,” vertel Jattie.

 

DOUVOORDAG het hulle album gedurende September 2018 voor ’n stampvol gehoor by die Atterbury Teater bekendgestel. Dié bekendstelling was bygewoon deur talle bekendes soos Riana Nel, Robbie Wessels, Kaleidoskoop, Roan Ash, Simoné Nortmann en Johan Vorster.

Douvoordag was in 2019 vir 6x kykNET Ghoema musiektoekennings benoem, insluitend Nuweling van die jaar, Beste alternatiewe album, Beste liedjieskrywer: samewerkingsgroep (Ilse & Jattie), Beste album deur 'n duo/groep, Groep van die jaar en Beste vervaardiger: samewerkingsgroep (Jattie & Jake Odendaal). DIE AVONTUUR is ook benoem in 2019 vir 'n SAMA (South African Music Award) in die kategorie Beste kontemporêre musiek album. Onlangs het hulle ook 2x Aitsa Afrikaanse musiektoekennings ontvang (Nuweling van die jaar) asook vir Die Groot Ontbyt temalied wat Jattie medeskrywer van was asook die vervaardiger - wenner van die Musiek in 'n TV-program kategorie. Hulle album was ook benoem vir Beste kontemporêre album saam met kunstenaars Refentste, Jo Black, Tarryn Lamb & Adam Tas, die enigste benoeming van 'n onafhanklike kunstenaar in die kategorie.

Jattie & Ilse woon tans in Pretoria saam met hulle 2 klein seuntjies - Ren & Ilan.

 

DIE AVONTUUR is verkrygbaar op alle digitale platforms en is ook in goeie musiekwinkels beskikbaar.

 

Lus vir positiewe, hoopvolle en energieke musiek wat wissel tussen ernstig en lig? Dan is DOUVOORDAG se DIE AVONTUUR beslis vir jou.

© 2018 Freesolo Creative

  • Facebook Clean
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon
  • White YouTube Icon