MANIFES

Jattie de Beer © Freesolo Creative

 

Hier is ons weer, vasgekeer
Eweskielik vasgevang in roetine van ‘n grys bestaan
So doodgemaklik dood verdoof
Iewers sal ek terug moet keer
Iets sê vir my daar is meer

Elke laaste een van ons se dae is getel
En niemand maak dit lewendig uit nie

 

My voete’s vrygemaak, in wye velde losgelaat

So ek sal myself uitdaag,

dis die manifes van ‘n vry man

Die wind is teen my rug, ek’s lus vir veg,

ek’s klaar gevlug

En ek moet my hart najaag

Dis die manifes van ‘n vry man

As net asem haal is wat ons doen

Kan ons dit lewe noem, is net-net dan genoeg?
Maar ek weier steeds om in te gee

Want ons is vir meer bedoel
Ek wil lewe diep in my longe voel


Uiteindelik ontwaak, heilige ongemak
Blaas aan die vlam in ons
Ons is vir meer bestem, elkeen met droom en wens
Ons paspoort tot ‘n pols

 

Oooo dis die manifes van ‘n vry man

DIE AVONTUUR

Jattie de Beer, Ilse de Beer  © Freesolo Creative

 

Staan op, goeiemôre, waar is ons nou?

Dis die ongetrapte pad wat my hart van hou

Hier voor lê ‘n vurk waar ons roete gaan

Vandag, vandag is ons tweede kans

 

Dis tyd om ons drome weer af te stof

En dit roekeloos te jaag al sou dit alles kos

Maar ons trap so versigtig die lewe deur

Net om veilig by die dood te arriveer

 

En ek dans en ek sing die onbekende in

Ek gaan waar ek wil, waar my hart my bring

Die tyd is min, die avontuur begin

Begin nou

 

Eerder dood as bang, is wat ek wil wees

Vryheid het ‘n vyand, sy naam is vrees

Ek soek meer as gemaklik net stroomaf dryf

Ons gaan ons eie storie skryf

 

Ek wil sê ek het gelewe

Ek wil sê ek het vertrou

Ek wil sê ek het tot aan die einde

steeds die koers gehou

Ek wil sê ek het ontdek

Ek wil sê ek het geskep

Ek wil sê ek het dit als gegee vir wat ek lief het

LANDSBERGHOEK

Jattie de Beer  © Freesolo Creative

 

Oor die nek se rant, ek was net-net tien
Ons probeer om jou huis eerste raak te sien
Net die vier van ons, so klein teen jou
Kyk die horison berg lê gedoop in blou

Deur die agterruit lê ek lank en staar
Na die rooi stofwolk wat ons agterlaat
Ek sien die paaie kruis krom oor jou rug
Ek sien iets van myself in jou gesig

Ek was net ‘n kind met die wind in my kuif
Hoe kon ek wat ek voel vir jou beskryf
Sondagmiddag deur die sonsak groet
Daar's van jou stof steeds in my bloed
Lank gelede Landsberghoek

As die kers uitbrand kan ek by jou skuil
Kom lê hier styf teen my as die jakkals huil
Ons is lankal groot, steeds bly dit waar
Al wat ons regtig het is net mekaar

TWEESTRYD

Jattie de Beer  © Freesolo Creative

 

Uitgedaag tot ’n tweestryd

Dis ’n geveg tot die bitter dood

Ek kom te staan teen ’n reus sonder bloed en vlees

Vlug is nutteloos 

 

Ek ken hierdie vyand

Hy gaan altyd reg vir die hart

Sy beste wapens is vrees en versteekte leuens

Hy probeer my hoop vertrap

 

Maar toe hy my laas gesien het

was ek kwesbaar en klein

En nou's ek groot met die Waarheid

in my maggesyn

Ek is vasgeanker en my hart is vry

Ek sal terugveg met die woorde beloof oor my

Terugveg met die woorde beloof oor my

 

Soms wankel my waagmoed

En ek's ‘n teiken op dooierus

Soveel keer al gedink dat ek op wil gee

Dan sien ek weer wie ek is

 

Jy kort ‘n vol hart om te volhard

En hou net jou oë oop en bly net staan

Net toe jy dink jy is teen die muur

Sien jy dis lank nie die einde nie

SKADUWEE VAN

DIE BERG

Jattie de Beer  © Freesolo Creative

 

Ek het ‘n paar dae diep in die berg in verdwyn
‘n Voetpad gevat tussen kranse en riviere
Ek het lig gepak, en tog het ek swaar gedra
Maar skielik gevoel hoe my wêreld vernuwe

Daar was ‘n fluistering in my hart,

soos die wind deur die gras
soos ‘n diep geheim in my oor

Jy was daar, in die skaduwee van die berg
My wegkruipplek teen die bloedige son
My kop neergelê, in die skaduwee van die berg
Vir my gevoel of ek lê op jou bors
Sagte wind op my vel
Jy was daar, in die skaduwee van die berg

Ek het opgekyk, probeer om my lyn te beplan
Maar die pad het verdwyn teen die

groot onbekende
Steeds uit die krans se hang

het hoop my genooi om te kom
En my vrese verswelg in ‘n perklose liefde

Eers met die laaste tree teen die kruin,

vang my oog onverwags
Die mooi in die verte se blinkblou see

 

SKIELIK IS DIE

SOMER HIER

Jattie de Beer  © Freesolo Creative

 

Die lig het geval, in sagte lyne oor jou gesig
Die son het gebreek 

deur swaar gordyne teen jou rug

Soms draai die aarde te stadig vir my
En winters voel soos ‘n ewigheid
Dan dink ek aan jou soos wat jy daar was
‘n Perfekte herinnering

En skielik is die somer hier
Die gedagte van jou bring ‘n reënboog kleur
Geblomde jasmyn, ‘n fynbos geur
En skielik is die somer hier
Voel soos kaalvoet en kortmou gesnyde gras, 
Soos stof na die reën wat die aarde was
En ek dink aan jou
En skielik is die somer hier

Ek wil jou onthou,

met glinster oë wat so woordloos lag
As ek jou kon raam

met jou hand in jou hare op daardie dag

 

VIR REN

Jattie de Beer, Ilse de Beer © Freesolo Creative

 

Jy is gevorm

in die dieptes van oneindigheid se wens
En al jou drome, jou gedagtes reeds geken
Jou eindbestemming is lankal uitgelê
En nou's jy hier by die begin

waar jou avontuur voorlê

Jy is gedoop in adelheid deur Allerhoogste hand
Jy word bedek deur goue vlerke groot
Jy het ‘n naam en ‘n erfenis standvastig soos ‘n rots
En jy moet weet jy is meer as wat jy dink

Goedheid en guns sal jou volg

al die dae van jou lewe
En ek sal altyd hier reg langs jou wees
Fonteine van waarheid en lig sal vloei uit jou wese
Dis wie jy is, dis wie jy is

Daar wag vernuwing

in elke droë woestyn waar jy beweeg 
En lewe spruit uit die vreugde wat jy bring
Diep in jou hart is wysheid ingeplant
En mag dit groei soos jy ontdek

dat die Hemel oor jou sing


Jy skyn soos die moreson

alreeds in jou geaardheid
Lig breek uit in kleure diep geweef in jou natuur
So laat jou hoop leef,

met die wete jy't 'n toekoms vol belofte
Jou beker kan oorloop

want waar jou voete gaan is reeds vir jou gegee

Jy kan heers oor jou vrese
Oor elke oomblik van twyfel
Want daar is ‘n groter Hoop
Wat lewe binne jou, binne jou

Jy kan heers in die donker
In elke oomblik van oorlog
Die stryd vir jou vryheid
Is al lankal reeds gewen

 

UITSIG

Jattie de Beer, Ilse de Beer © Freesolo Creative

 

So ver die oog kan sien oor die ver plateau

Net oor die kruin van onbekende berge voor

Wag daar 'n landskap uitgelê waar ek blindelings kan glo

Waar die niks weergalm en ek my hartklop kan hoor

 

Kan ek hierdie uitsig vasvang

Teen my hart se mure ophang

Want die vlamme vlam op teen my honger hart

En die son breek uit oor 'n donker land

Kan ek hierdie uitsig vasvang

 

My oë verken die lyn van die horison

Kilometers ver breek 'n wolkkolom

Ek is deel van hierdie skepping

Van die water, wind en grond

En die stilte nooi my om nog nader te kom

 

Gee my wilde hoop in vrye vers

In kleure oor die lug geverf

Laat eenvoud my vryheid bewaar

Soos vlinders teen die swaartekrag

In die oggendlig van douvoordag

Styg ons uit, staan ons en staar

DESEMBERS

Jattie de Beer © Freesolo Creative

Pastel lakens oor die lug drapeer
Lang jaar en ek en jy wil suid migreer
Deur Outeniquapas se miswolk hang
Of Meiringspoort se kronkelgang
Ons kies ons eie roete weer ’n keer

En ons kronkel af langs die afdraaipad teen die rivier
Moeg en bly, uiteindelik hier

Hierdie Desembers is deel van jou en my 
Ons kan deurnag wakker bly
En ons foute weer doop in die see met eerste lig
Net hierdie Desembers sit my weer aanmekaar 
Sterk genoeg vir nog ’n jaar
En die branders slaan vas teen my borskas 
En ek hys die vlag weer in my hart

Jy weet ek weet jy dink ek dink te veel
Introspekteer weer en weer, probeer om my rus te steel
Maar as ek ou vriende sien en hul stemme hoor
My familie hoor sing om ’n kersfeesboom 
Weet ek hierdie dinge maak ons heel

So herinner my aan tradisie as ons arriveer 
Om die naam van die brug af te skree

Ons is vir ewig ge-ets in hierdie sand
Ons blink resolusies, kortstondig
Soos ’n vuurwerk aan die oorkant
Onvergenoegdheid is altyd ’n lastige passasier
Ek wens ons kon stilstaan en vashou aan elke oomblik hier

INSTEDE

Jattie de Beer, Leon Gropp © Freesolo Creative / Urial Publishing

Instede van toebou het ek oopgebreek

My sement voete in riviere deurweek

Die beton in my are laat uitvloei na benede

Berge opgerig, instede van stede

Instede van stede

 

Want dis teer waar my hart lê

In skaduwee strate, ‘n landskap verlate

Ons het almal ons skete, en dit is wat dit is

Teen alle rede, bewaar ek die vrede

 

Instede van oorgee aan ‘n laatnag sirene

Staan ek weer op uit ‘n standbeeld verlede

Kan jy dit regkry om my ooit te vergewe

Of bou jy ook strandduinvure instede van stede

Instede van stede

 

Red my metropool hart

Ons forte het ons tronke geword

Ek het die aand geraak, die skemer ingeasem

Op die dak van ‘n lugraak gebou

 

Ek het die aand geraak,

ek het die skemer ingeasem

 

SKRAPNEL

Jattie de Beer  © Freesolo Creative

 

Dis ongeloof wat my beroof

Haat wat in my oorlog maak

Onvergifnis jy vergiftig my

Gister se wrok hou my ingehok

 

Want dis die skrapnel wat sit in my siel

My enkele verweer is knieë wat kniel

Ek sal moet oorgee voor ek weer kan staan

Al hoe ek kan wen is om dit te laat gaan

Laat gaan, laat gaan

 

Dis my eie lof wat in my ontplof

Jy steel net my tyd oh bitterheid

As ek ander blameer vir wat met my gebeur

Grou ek my eie graf alweer

 

So ek ruil my berou vir ‘n hart wat vertrou

Gee my bitterheid weg, veg die goeie geveg

Gee vergifnis verniet al is dit onverdiend

Breek myself uit die hok van die klouende wrok

 

Dit was meer as net pleisters meer as ‘n verband

Dis ‘n nuwe hart, Jou hart, in my oorgeplant

Nou staan ek uitverkoop aan ‘n ewige hoop

Eens ‘n dorre woestyn,

nou ‘n kleurvolle tuin wat leef in my

KYK OP NA BO

Jattie de Beer, Ilse de Beer © Freesolo Creative

 

Kom ons bou ‘n strandvuur wat hoog brand,

hoog teen die laaste lig

Ek strek my arms wyd oor die kleure,

gloeiend teen my gesig

Sterrebakens hang in die hoogtes,

lei my vanaand na bo

En verklap aan my die aand se geheime,

dit wat my hart moet glo

 

Ek is rusteloos virewig opsoek

Ek is rusteloos virewig opsoek

 

Ek kyk op na bo

Verdwyn in die skemer in

Nuwe lig, nuwe hoop

Ek staan en ek lig my oë

Raak weg oor die horison

Jaag die lig, jaag die hoop

Ek kyk op na bo, kyk op na bo,

kyk op na bo, kyk op na bo

 

Ek transendeer my tasbare perke,

gaan waar net ons kan gaan

Ek luister na die wind oor die see

en hoor hoe jy asem haal

Eindelose oop lug ontvou my,

nooi my om op te kom

Jou magnetiese vryheid verstom my,

trek my tot in die son

 

Rig my oë na die noorde

Rusteloos soekend, rusteloos soekend

Luister uit vir jou woorde

Altyd verlangend, altyd afwagtend

 

HIER TUSSEN ONS

Louis Brittz © Mar Gospel Music Publishers

 

Die liefde is ’n rooi gedig in versreël en kwatryn
Wat jou met gawe oë sien in woorde sag en fyn
Die liefde is ’n spierwit duif met bloeisel in die mond
Wat met sy koms die boodskap bring:
Die liefde maak gesond

Die liefde lê in sagte woorde
Wat oor my gees kom streel
En in die droë maande my hart tot hoop beveel
Die liefde lê in sagte soene, wat met die jare groei
En soos die Kaapse lelieblom
Jaar in en jaar uit bloei

Die liefde is ’n môrester, blink op die horison
Wat sê met ryke majesteit: Ek het vir jou gekom
Die liefde is ’n leë graf, ’n brokkie brood en wyn
Die liefde is ’n wegkruipplek
Teen hartseer en teen pyn

 

Die liefde lê, die liefde lê, die liefde lê
Hier tussen ons

HANDE VAT

Jattie de Beer © Freesolo Creative

 

Kom saam met my na die platteland

Oor die stad se rand waar daar stilte is

Daar lê ‘n dorp, klein en weggesteek

Harte wat lag en breek, hande wat werk en rus

 

Hier kan ons verder sien want ons kyk vir mekaar

Selfs die grofste stofpaaie kom ook daar

Ek sit myself in jou skoene en dan hoor jy my hart

Ons kan verder loop as ons hande vat

 

Kom sien die hart van Suid-Afrika

Hier is die glimlagte groot en die arms oop

Die kleindorp droom is nog lewendig

Ek sien dit in jou gesig

In jou liefde groot

 

© 2018 Freesolo Creative

  • Facebook Clean
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon
  • White YouTube Icon